Te lank het ek
geleef
strompelend steier ek die
pad af dorp toe
melk en brood is klaar
en ek moet kry
want my tande is op
die brood en melk is sag
om te eet
laas het ek uit die taxi geval
my bril is stukkend
en my broek geskeur
kinders het my vergeet
en ek moet maar steier
dorp toe
anders kan
ek nie eet nie
vrou is dood seker
omdat ek haar
so gevloek het in my kop
want sy het my hel gegee
toe sy geleef het
RIP
jou bliksem
my kierie is darem reg
met wit tou en gom
vasgemaak en nou
is dit my stut
my kierie so skuins uitgegooi
strompelend af in die pad
suiker ek af dorp toe
te trots om iemand te vra
om my te vat want ek kan nog na myself kyk
rakkers gooi my met
stokke langs die pad
honne blaf hulle gat
af
maar hulle weet
kom naby my
en ek neuk hulle met my kierie
dat hul tjankend hardloop
terug by my kaia proe ek die melk
en eet ek my brood
en ek weet ek het te lank geleef
in hierdie woeste ongenaakbare wereld
No comments:
Post a Comment