Sunday, August 3, 2014

Voorwoord

Voorwoord

Hierdie bundel is saamgestel oor jare. Jare wat verby is en wat elkeen iets beteken het vir my. Jare wat ek saamgeleef het met mense en hulle ervaar het.
Hoe het dit gewerk? Eers het ek net geskryf om gedagtes neer te pen. Later het dit meer geword, want ek het nie meer gebuk gegaan onder die gedagte “ jy is nie goed genoeg nie.”
Mettertyd het ek dit sommer op my foon opgeneem . Dit het ek teruggespeel en soms vir ander mense daarna laat luister .
Wat verbasend was, was dat ek agtergekom het dat mense anders reageer teenoor my. Hulle word geroer deur my woorde. Skielik kyk hulle anders na my.
Alles is nie werklik nie, maar ook soms verbeeldingsvlugte van my gedagtes. Ander is weer werklik – seermaak werklik.
Baie keer het ek skrywes deurgehuil in die middel van die nag. My neus en trane het geloop.
Inspirasie kom sommer vanself. Soos een oggend toe ek werk toe ry. By die hek het ek gesien hoe grawe ‘n vrou met ‘n babatjie op haar rug in ‘n vullissak. ‘n Ander keer het ek gesien hoe ‘n vrou met krullers in haar hare en ‘n sigaret in haar hand ‘n vullissak uitsit. Die twee beelde het inmekaar gevloei. Die gedig “asblikmensies” is gebore.
Die geluk met my skrywes is dat dit myne is. Niemand kan dit verander nie. My briewe en ander artikels wat ek skryf moet altyd taalkundig versorg word, maar hierdie bundel is my kuns. Hoe goed of swak dit is.
Inspirasie is waaruit  my lewe nou bestaan – dit maak dat ek sommer gou en eensklaps iets kan skryf.
Die woorde vloei uit my en stapel neer op my papier. Ek verstaan nou eers wat inspirasie is. Wanneer ek na ‘n  verfkunstenaar kyk,  besef ek hoe spesiaal inspirasie is. Jy moet ‘n ateljee he waar jy jou kuns kan uitleef. My ateljee is sommer in my kop.
Die liefde is my onderwerp, want ek het eers laat in my lewe ontdek wat liefde werklik is.
Nou weet ek onomwonde – ek wil by jou wees – daarom dra ek hierdie bundel aan jou op sodat jy dit altyd het en weet:  Al deel ek dit met ander, is dit net vir jou, daarom is die bundel se naam “gedigtevirjou.”
Geniet my gedigte, want ek weet dit is iets wat jy lees en jou laat sug en se “dit is so mooi!.”


DiDi die Versieboer

No comments:

Post a Comment